ISRAEL. – Die laaste lewende Israeli-Amerikaanse gyselaar, Edan Alexander, is Maandag deur Hamas vrygelaat en is na byna 19 maande in Gaza, met sy familie herenig.
Lees ook: Hamas gaan Israeli-Amerikaanse gyselaar vrylaat in hoop op skietstilstand
Hamas het Sondagaand bevestig dit het ’n ooreenkoms met Amerika bereik om Alexander (21) te bevry met die hoop om ’n skietstilstand met Israel te bereik en humanitêre hulp in Gaza te kry.
Alexander is stabiel verklaar na ’n mediese ondersoek en is met sy familie herenig na hy op 7 Oktober 2023 ontvoer is terwyl hy in die Israeliese weermag gedien het. Sy familie het Trump en sy administrasie vir Alexander se vrylating bedank.
Daar is steeds 58 gyselaars in Gaza, met 20 wat moontlik nog lewend is. Trump se administrasie het Israel gesystap en met Hamas self gekommunikeer om Alexander te bevry. Trump het gesê dit is ’n “stap wat in goeie gees geneem is deur die VSA en die pogings van die bemiddelaars – Egipte en Katar – om hierdie brutale oorlog te beëindig en ALLE lewende gyselaars en oorskot vir hulle families terug te bring”.
Netanyahu se kantoor het gesê “Israel het nie tot ’n skietstilstand ingestem of die vrystel van gyselaars nie, maar om ’n veilige deurgang vir Alexander se vrylating toe te laat”. Sy kantoor het bygevoeg “onderhandelinge sal onder vuur voortgaan en voorbereidings word gedoen om die vegtery te intensifiseer”.
Bronne: CNN, CBS News, Euronews
Lees ook: Hamas gaan Israeli-Amerikaanse gyselaar vrylaat in hoop op skietstilstand





