GAUTENG. – ‘n Polisiekaptein (59) wat verbonde is aan die Tshwane Polisie-akademie in Pretoria-Wes, is Maandag in die Pretoria-landdroshof op R8 000 borgtog vrygelaat. Hy word daarvan aangekla dat hy ‘n vroulike polisiestudent (20) verkrag en nog een seksueel aangerand het.
Lizzy Suping, woordvoerder vir die polisie se onafhanklike klagtedirektoraat (Opod), sê in ‘n verklaring dat die beweerde verkragting op 6 Mei 2025 gebeur het, terwyl die beweerde seksuele aanranding van die tweede student in Maart vanjaar plaasgevind het. Albei die voorvalle het glo in die kaptein se kantoor by die opleidingskollege gebeur.
Luidens die klagtes het die 20-jarige glo op die betrokke datum saam met haar peloton na hul slaapplekke gestap toe sy na die kaptein se kantoor geroep is. Die kaptein het glo die deur gesluit en aan haar gesê dat as sy nie met hom slaap nie, hy haar weens wangedrag gaan aankla. Sy het glo versuim het om hom in April te salueer.
Lumka Mahanjana, streekwoordvoerder vir die NVG, sê die vuurwapeninstrukteur het reeds 31 jaar diens. Hy het glo die 20-jarige beveel om haar klere gedeeltelik uit te trek, terwyl hy self ook gedeeltelik ontklee en haar daarna verkrag het. Ná die voorval het hy haar glo beveel om aan te trek en te vertrek.
In ‘n afsonderlike voorval op 17 Maart 2025 het die beskuldigde glo die tweede klaagster in sy kantoor seksueel aangerand. Die slagoffer het die voorval aan owerhede by die akademie gerapporteer, wat die polisie ingeroep het. Sy is vir mediese sorg geneem en daarna na die Thuthuzela-sorgsentrum in Laudium vir verdere ondersteuning verwys.
Die beskuldigde is op 7 Mei 2025, ’n dag ná die voorval, in hegtenis geneem. Die saak is toe na vir verdere ondersoek na Opod oorgedra. Ná sy inhegtenisneming het die tweede klaagster na vore gekom en gerapporteer wat met har gebeur het.
Mahanjana sê die staat het die kaptein se borgtogaansoek teengestaan omdat die beskuldigde van ernstige misdrywe aangekla word. Madre Windvogel, die staatsaanklaer in die saak, het verder aangevoer dat die beskuldigde ’n vlugrisiko is, aangesien hy nagelaat het om aan die Opod-ondersoeker te sê dat hy ’n paspoort het. Die hof het egter bevind dat dit in die belang van geregtigheid is om die beskuldigde op borgtog vry te laat, op voorwaarde dat hy hom elke Dinsdag en Donderdag by die Hercules-polisiekantoor moet aanmeld. Die kaptein moet ook sy paspoort binne 24 uur aan die ondersoekbeampte oorhandig, hy mag nie enige getuies direk of indirek kontak nie en hy mag nie by die polisiekollege aanmeld, tensy dit deur die hof toegelaat word nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 9 September uitgestel.
Lees ook meer hier onder:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





