WES-KAAP. – FC Conradie (39), die hoof- uitvoerende beampte en mede-eienaar van die private Gondwana-wildreservaat, is Dinsdagoggend 23 Julie oorlede nadat hy deur ’n olifant vertrap is. Die reservaat bestempel Conradie se afsterwe as tragies.
Priscilla Taylor, die reservaat se verkoopsbestuurder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits volgens inligting het die voorval omstreeks 08:00 plaasgevind. Nooddienste het vinnig gereageer, maar Conradie is op die toneel dood verklaar. AO Kappie Kapp van die KwaNonqaba-polisiekantoor het bevestig ’n geregtelike doodsondersoek is geopen en ’n formele ondersoek is aan die gang om die omstandighede oor die voorval te bepaal. Die publiek is versoek om hulle van spekulasie te weerhou terwyl die ondersoek voortduur.
Conradie is as ‘n passievolle natuurbewaarder bestempel wie se visie en leierskap ‘n sleutelrol in die vestiging van dié privaat wildreseraat gespeel het. Taylor sê voorts hy was tot volhoubare toerisme, gemeenskapsontwikkeling en wildbewaring verbind en het ‘n blywende indruk op sy medewerkers gelaat. Simpatie is aan sy geliefdes en kollegas betuig.
’n Woordvoerder namens die Gondwana-span, en ’n nabye familievriend, het gesê: “Dit is ’n ondenkbare verlies. FC was meer as ’n leier – hy was ’n mentor, ’n visionêr en ’n uitsonderlike mens. Ons vra dat die familie privaatheid gegun word in hierdie buitengewoon moeilike tyd. Almal wat FC geken het, verkeer in diepe rou.”
Conradie laat sy vrou, drie jong kinders, familie, vriende en kollegas agter.





