GASA. – Die VN het gesê “daar moet geregtigheid wees” nadat Israel Maandag ’n dubbele aanval op die Nasser-hospitaal in Khan Younis geloods het wat 20 mense gedood het.
Lees ook: Dodetal styg ná Israeliese aanval op hospitaal – nóg 5 joernaliste dood
Vyf joernaliste en vier gesondheidswerkers is in die aanvalle dood en sowat 50 burgerlikes gewond.
Die woordvoerder van die VN-menseregtekantoor, Thameen al-Kheetan, het gister gesê die aanval “is ’n skok en dis onaanvaarbaar”. Hy het gesê: “Dit bring baie vrae oor die teiken van joernaliste en al die voorvalle moet absoluut ondersoek word en die verantwoordelikes moet aanspreeklik gehou word”. Al-Kheeten het verder gesê: “Die ondersoeke moet uitslae hê. Daar moet geregtigheid wees. Ons het nog geen uitslae of maatreëls om mense aanspreeklik te hou, gesien nie”.
Israel het gesê die Israeliese weermag het ’n kamera in die gebied van die hospitaal geïdentifiseer wat deur Hamas daar gesit is “om die aktiwiteite van die mag dop te hou” sonder om bewyse te voorsien. Die Israeliese weermag het gesê: “Ons het die bedreiging verwyder deur ’n aanval te loods en ontslae te raak van die kamera”. Hulle het beweer ses van die mense wat dood is, was “terroriste”. ’n Weermagwoorvoerder het later gesê die joernaliste was nie die teikens nie.
Bronne: BBC, UN News, The Indian Express
Lees ook: Dodetal styg ná Israeliese aanval op hospitaal – nóg 5 joernaliste dood





