NOORDWES. – Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) het Maandag 15 Desember in Bapong naby Brits vergader om die omvang van onwettige mynbedrywighede in die gebied te bepaal en ingrypings te bespreek. Die vergadering is by die Mooinooi-polisiestasie gehou en is gevolg deur ’n terreinbesoek deur verteenwoordigers van verskeie regeringsdepartemente.
Volgens genl. Fannie Masemola het die besoek bevestig dat onwettige mynbedrywighede ’n veiligheidsrisiko vir gemeenskappe inhou. “Die grond rondom huise is onstabiel weens die onwettige mynbou en dit kan tot verdere probleme lei indien dit voortduur,” het hy gesê. Masemola sê hy het ’n volledige inligtingsessie van Natjoints ontvang oor moontlike ingrypings wat onmiddellik ingestel kan word. Hy het bevestig dat elf onwettige mynwerkers oor die naweek in hegtenis geneem is, terwyl daar op toerusting en masjinerie beslag gelê is. Volgens hom sluit die onmiddellike planne die versterking van misdaadbekampingsoperasies in, met die ontplooiing van meer polisielede, insluitend misdaadintelligensie, die Valke, speurders en taktiese eenhede. ’n Geïntegreerde en multidissiplinêre span binne die provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Provjoints) en Natjoints is ook saamgestel om die wet toe te pas en onwettige mynbedrywighede te stop.
Provjoints en Natjoints verwys na ’n nasionale regeringskoördineringsliggaam wat bestaan uit verskeie staatsdepartemente, die veiligheidsdienste en intelligensiestrukture. Die liggaam koördineer gesamentlike reaksies op veiligheidsbedreigings, rampe, misdaad, onrus en ander nasionale risiko’s. Verskillende staatsrolspelers word bymekaargebring om beplanning te doen en vinnig op krisisse te reageer.
“Enige mynbedrywighede sonder ’n permit van die departement van minerale en petroleumhulpbronne is onwettig en strafbaar,” het Masemola gesê. Hy het bygevoeg dat daaglikse operasies gemonitor sal word en dat hy weeklikse verslae oor vordering sal ontvang.





