WES-KAAP. – Die dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika se inspeksiespan is Vrydagmiddag vir bystand ontbied vir ’n ponie wat ’n karretjie vanaf Hanover Park na Kenilworth getrek het.
Met aankoms het inspekteurs die dier in ’n kommerwekkende toestand aangetref. Die ponie was erg gedehidreer, ondergewig en het gebarste hoewe gehad, met geen behoorlike hoefbeskerming nie, wat groot pyn en ongemak veroorsaak het. Volgens die organisasie is die eienaar reeds ’n week tevore deur wetstoepassers gewaarsku om die dier te laat rus en veeartsenykundige behandeling te kry, maar geen stappe is geneem nie. Weens die ernstige welsynsrisiko is die Cart Horse Protection Association ingeroep en is die ponie onmiddellik verwyder om die nodige sorg en beskerming te ontvang.
Die organisasie sê geen dier behoort aan uitputting, pyn, verwaarlosing of uiterste weersomstandighede onderwerp te word nie. Die publiek word versoek om gevalle van dieremishandeling of diere in nood by die relevante noodnommers aan te meld.
021 692 2626 | 082 601 1761
082 656 6599








