OOS-KAAP. – ‘n Verdagte (33) is Dinsdag deur die OR Tambo-veediefstaltaakeenheid in hegtenis geneem nadat hy in besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig in Qumbu gevind is.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die beamptes was tussen Sulenkama en Qumbu met roetinepatrollie besig toe hulle ‘n wenk van ‘n gesteelde bakkie gekry het. Die voertuig is in Blackhill opgemerk en gestop. ’n Voorlopige ondersoek het bevestig dat die bakkie, wat met valse nommerplate gery het, in Desember 2024 in Ntabankulu gesteel is. Die bestuurder van die bakkie, oorspronklik van Mahlungulu in Qumbu, is in hegtenis geneem en vir die besit van gesteelde eiendom aangekla. Hy sal vandag (Donderdag) in die Qumbu-landdroshof voorkom.
Verdere aanklagte teen die verdagte kan moontlik volg.