MPUMALANGA. – ‘n Bekende “prokureur” (43) en administratiewe personeellede is Woensdag deur die Valke in Nelspruit op aanklagte van bedrog en die voorgee om ‘n prokureur te wees, gearresteer.
Tshepo mahlako (43) die, “prokureur”, TC Mahlako, Bongani Tsobolo (35), Adelaide Manana (35), Duncan Mohale(33) en Thobile Nkosi het vandag op aanklagte van bedrog, geldwassery en oortreding van die regspraktykwet in die Nelspruit-streekhof verskyn. Die saak waarby R15 m. betrokke is, is tot Maandag uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding.
Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi sê die inhegtenisnemings volg op klagtes oor verskeie boedels wat deur die verdagtes hanteer is. Slagoffers het deur die verdagtes teen die boedels geëis, maar glo vir meer as drie jaar geen betalings ontvang nie.
Met ‘n ondersoek is vasgestel die prokureur is nie ‘n wettige prokureur nie. Hy en sy personeel het na bewering niksvermoedende slagoffers gewerf en hulle boedels geadministreer. Dan het hulle briewe van die meester van die hooggeregshof bekom om die boedels as eksekuteur te likwideer. Hulle sou dan die likwidasiegeld aan hulself laat toekom. Met finalisering van die ondersoek is lasbriewe vir die inhegtenisneming vir die verdagtes uitgereik.
Genl.maj. Gerber van die Valke het die fluitjieblasers in die saak geprys, omdat die insident 16 families sonder ‘n inkomste gelaat het. Meer slagoffers is gevra om na vore te kom. Speur.AO. Portia Sanderson kan by 082 772 2318 gebel word.
“The Hawks shall investigate and arrest all criminals who threaten the safety and livelihood of our communities without fear, favour or prejudice,” sê Gerber.
Die ondersoek duur voort.