KIMBERLEY. – Jeanne Hugo (51) het na 19 jaar se daaglikse gebruik van Adco-Dol (pynstillers) besef dit is ’n verslawing toe sy nie meer daarsonder kon slaap nie.

Sy sê sy het die pille begin gebruik vir pynverligting nadat sy ’n kankeroperasie ondergaan het. “Ek het dit nooit gedurende die dag gebruik nie, maar het elke aand twee tot drie Adco-Dols vóór slaaptyd gedrink.
“Ek het besef dit is ’n verslawing toe ek nie meer daarsonder kon slaap nie. Ek het dit vir die afgelope 10 jaar spesifiek vir slaap gebruik. Ek het ook ’n gebrek aan konsentrasie gehad en pynlike niere en nagsweet begin ervaar.”
Sy sê sy het die gebruik van die medikasie twee maande gelede gestaak. “Persone wat afhanklik is en dit op ’n daaglikse basis gebruik, moet geleidelike afskaling doen. Newe-effekte soos spierpyne en angs kan voorkom wanneer die medisyne gestaak word,” sê sy.
“Dit is nooit te laat om ’n verandering te maak nie. Adco-Dols is effektief vir pynverligting indien dit vir die regte redes gebruik word of binne die tydperk wat in die voubiljet gemeld word. Dit hou dan nie gevare in nie. Sodra medikasie konstant of daagliks gebruik word, veral om ‘beter’ te voel of om te slaap, moet die gevaarligte flikker en hulp gekry word.”
Jeanne sê hierdie medikasie kan by sekere persone hoog verslawend wees en by ander weer geen effek hê nie. “Die heel beste raad is om egter voorkomend op te tree en eerder alternatiewe medikasie of behandeling te gebruik indien afhanklikheid intree.”
