GAUTENG. – Die polisie het ‘n beloning van R60 000 uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van Zamani Ngila Ximba sal lei. Ximba word gesoek in verband met die moord op Khethamabala Sithole, die Inkatha Vryheidsparty (IVP) se adjunksweep.
Lt.kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Ximba word ook gesoek vir die poging tot moord op twee ander persone in ‘n voorval op 31 Mei by die Buyafuthi-koshuis in Katlehong. Die verdagte is lank, het ’n donker gelaatskleur en word as gewapen en baie gevaarlik beskou.
“Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help met die opsporing van die verdagte om dit dadelik by die owerhede aan te meld.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





