GAUTENG. – Die voormalige onderwyser wat op pornografie-verwante aanklagte in die Pretoria-landdroshof verskyn het, is op R10 000 borg vrygelaat. Nog slagoffers het glo na vore gekom en ‘n vorige aanklag is aan die lig gebring.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldigde, voorheen van Raslouw Academy in Valhalla, Centurion, het in die hof voorgekom. Die aanklagte teen hom sluit drie in van kinders wat aan pornografie blootgestel is en vier aanklagte van seksuele voorbereiding van twee 13-jariges en ‘n 15-jarige seun.
Die beskuldigde is op 13 Desember 2024 by sy huis in hegtenis geneem. In sy borgaansoek het hy gevra om op borg vrygelaat te word, aangesien hy ‘n eerste oortreder is, sy bejaarde ouers van hom afhanklik is en hy boonop ‘n mediese toestand het wat aandag vereis.
Chis Maruma, aanklaer vir die staat, het borg teengestaan en gesê die beskuldigde is ‘n herhaalde oortreder, aangesien daar ‘n soortgelyke saak in Randburg geopen is, toe hy die hoof van Sparks School was. Daar is verder voorgehou nog slagoffers het na vore gekom en indien hy op borg vrygelaat word, hy met die ondersoek en slagoffers sal inmeng.
Die landdros het egter gesê die sterkte van die staat se saak is onbekend, aangesien die inligting vanaf die beskuldigde se toestelle tans onbekend is. Hy het ook voorts gesê die beskuldigde het ‘n chroniese siekte waarvoor hy dalk nie behandeling in die tronk sal kan kry nie. Borg is op hierdie gronde toegestaan.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 27 Maart uitgestel.
Lees meer oor die beweerde misdade hier onder: