OOS-KAAP. – Drie onderwyseresse wat Donderdag by die Ntabankulu Primêre Skool geskiet is, is dood. Die derde onderwyseres het gedurende die nag aan haar beserings beswyk. Die vierde sterfgeval is die vermeende skieter, wat op die toneel dood verklaar is nadat hy glo die vuurwapen op homself gerig het.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, brig. Nobuntu Gantana, was die derde beseerde onderwyseres per ambulans onderweg na die Mthatha-hospitaal toe sy komplikasies ervaar het. Sy is met aankoms by die Madzikane-hospitaal dood verklaar. Al drie onderwyseresse wat tydens die skietvoorval gewond is, is nou oorlede. Hulle name sal bekend gemaak word sodra die naasbestaandes in kennis gestel is.
Volgens die polisie was die manlike verdagte, ’n voormalige onderwyser wat in 2023 ontslaan is ná seksuele aanrandingsklagte, op borgtog. Hy het glo toegang tot die skoolperseel gekry deur ‘n heining te knip, waarna hy op die onderwyseresse losgebrand het.
Die ondersoek na die volle omstandighede van die voorval duur voort. Dis hersien en word nou as drie aanklagte van moord en een geregtelike doodsondersoekdossier geklassifiseer.





