GAUTENG. – Die Hooggeregshof in Pretoria het senior advokaat Roelof du Plessis se aansoek van die hand gewys om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om hom weens poging tot moord te vervolg, tersyde te stel. Die saak spruit uit ’n beweerde padwoedevoorval op 1 Augustus 2023 in Menlo Park, Pretoria, waarin Conrad Pretorius steekwonde aan sy nek en bobeen opgedoen het.
Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die eenheid, wat Pretorius verteenwoordig, verwelkom die uitspraak. Die NVG het Pretorius aanvanklik van aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging aangekla. Ná vertoë namens hom het adv. Shamila Batohi, die destydse nasionale direkteur van openbare vervolgings, in Augustus 2025 besluit om Du Plessis vir poging tot moord te vervolg. Volgens die eenheid het regter Sulet Potterill bevind dat daar redelike en waarskynlike gronde vir vervolging was en dat Batohi se besluit objektief rasioneel was. Potterill het ook Du Plessis se bewering verwerp dat druk van AfriForum tot die besluit gelei het.
Volgens AfriForum het ’n woordewisseling by ’n kruising waar die verkeersligte buite werking was, die konfrontasie voorafgegaan. Pretorius beweer Du Plessis het hom tot in ’n doodloopstraat gevolg, waar hy in die nek en been gesteek is. Du Plessis voer aan dat hy ’n mes gebruik het om ’n aanval af te weer. Die hof moes oor die rasionaliteit van die vervolgingsbesluit beslis. Bateman sê die eenheid wag nou dat die NVG die strafverrigtinge instel.
Druk hier om meer te lees.