TEHERAN, IRAN. – Die Israeliese weermag het bevestig dat dit oornag lugaanvalle op kernaanlegte en wapenvervaardigingsfasiliteite in Teheran uitgevoer het. Dié aanvalle, wat reeds Vrydag begin het, is volgens Israel geloods as reaksie op Iran se beweerde pogings om kernwapens te ontwikkel.
Lees ook: Iran waarsku Israel oor nog ‘massiewe aanvalle’
’n Woordvoerder van die Israeliese weermag het gesê die aanvalle was presies geteiken en gerig op fasiliteite wat glo deel is van Iran se kernwapenprogram. Israel beweer die rede vir die aanvalle wat Vrydag begin het, is dat Iran besig is om kernbomme te maak.
Iran se weermaghoof, generaal Abdul Rahim Mousavi, het op die aanvalle gereageer deur te sê: “Die operasies wat sover uitgevoer is, was om te waarsku en verdere aanvalle af te weer. Die strafoperasie sal binnekort uitgevoer word.”
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ook sy mening gelug: “Ons geduld is besig om op te raak” en Iran se president moet “opgee”. Hy het bygevoeg: “Ons weet presies waar die president wegkruip. Hy is ’n maklike teiken, maar dit is veilig daar. Ons gaan hom nie nou doodmaak nie”.
Bronne: Euronews, The Independent, Sky News





