MPUMALANGA. – Kerkleiers in die provinsie is deur Jackie Macie, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, gevra om veiligheidsmaatreëls te verskerp om hulleself en lidmate beter te beskerm.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir dié departement, sê in ‘n verklaring die beroep is gedoen ná onlangse rooftogte wat tydens eredienste in Bosbokrand en Kwamhlanga plaasgevind het. Twee rooftogte is in die Calcutta-polisiëringsgebied aangemeld, terwyl ’n derde rooftog Vrydag omstreeks 23:00 tydens ’n nagwaak in Kwamhlanga plaasgevind het.
Macie het kerke versoek om saam met die polisie en veiligheidsdienste te werk. Hy het aanbeveel dat kerke CCTV-kameras en alarms installeer, veiligheidspanne of diensdoenende ouderlinge aanwys om die gemeente dop te hou, asook risiko-ondersoeke doen om kwesbare gebiede te identifiseer. Gemeentelede word ook aangemoedig om enige verdagte gedrag of individue in die omgewing van kerke aan te meld.
Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die Kwamhlanga-polisie ondersoek die rooftog van Vrydagaand, wat tydens naggebed plaasgevind het. Volgens inligting was sowat 60 lidmate in gebed toe ses gewapende mans die gebou binnegestorm het. Gemeentelede is deur die gewapende verdagtes gedwing om op die grond te lê, waarna hulle selfone, beursies, klere en ’n onbekende bedrag kontant gesteel het. Die ligte is afgeskakel voordat die verdagtes gevlug het.
Die polisie is ontbied en ’n saak van sakeroof is geopen. Geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie en die publiek word versoek om enige relevante inligting aan te meld.





