Brekende Nuus
Nuus

KYK: Dodetal in massaskietery styg tot 18

Foto: Ter illustrasie

Video van voorval in berig.

GAUTENG. – Die dodetal ná die massaskietery by ’n taverne in Wedela aan die Wesrand het tot 18 gestyg, nadat nog ’n slagoffer in die hospitaal dood is. Die polisie ondersoek nou 18 aanklagte van moord en 18 van poging tot moord, asook twee aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en gewapende roof.

Brig. Brenda Muridili, Gauteng-polisiewoordvoerder, sê lt.genl. Tommy Mthombeni, Gauteng se provinsiale polisiekommissaris, het ’n toegewyde multidissiplinêre taakspan saamgestel om die skietery van die aand van 26 September te ondersoek. Die span bestaan uit ervare moord- en roofspeurders, lede van misdaadintelligensie en misdaadtoneel en word deur ’n senior brigadier van die provinsie se misdaadondersoekdienste gelei. 

Slegs vier van die 18 oorledenes is tot dusver geïdentifiseer, naamlik twee Suid-Afrikaanse burgers en twee van Lesotho. Al die beseerdes wat in die hospitaal behandel word, is geïdentifiseer.

Volgens inligting aan die polisie is vyf van hulle in die bolyf geskiet en kritiek beseer, terwyl die ander beseerdes se toestand stabiel is. Operasie Prosper, wat die Suid-Afrikaanse nasionale weermag en gespesialiseerde SAPD-eenhede soos die taktiese reaksiespan en openbare orde-polisiëring insluit, is ook betrek om operasies in Wedela en omliggende gebiede te verskerp. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.