INTERNASIONAAL. – Vyf persone is vir die dood van Liam Payne (31) van One Direction, aangekla. Die wêreldbekende superster het op 16 Oktober in Buenos Aires, in Argentinië, gesterf.
‘n Aanklaer het Maandag in ‘n verklaring bekend gemaak ‘n persoon wat as Payne se verteenwoordiger geïdentifiseer is, die hotelbestuurder en die hoof van ontvangs van die hotel waar Payne gesterf het, is ook nou vir manslag aangekla. Indien skuldig bevind, kan hulle tot vyf jaar tronkstraf opgelê word.
‘n Hotelwerknemer en ‘n plaaslike kelner is ook ‘n ruk gelede vir die verskaf van kokaïen aan die ster aangekla en is deur ‘n regter tronk toe gestuur, nog voordat hulle verhoor kon word. Hulle kan tot 15 jaar tronkstraf opgelê word.
Die beskuldigdes se identiteit is nog nie deur die hof bekend gemaak nie.
Payne het gedurende Oktober van die derde vloer van die Casa Sur Palermo-hotel na sy dood geval. Hy het alkohol, kokaïen en voorgeskrewe antidepressante in sy bloed gehad.
Bronne: CNN, Sky News, BBC