GAUTENG. – ‘n Ma (32) wat glo haar kleuterseun (2) verkoop het, het op aanklagte van mensehandel en sameswering van roof en regsverydeling in die Vanderbijlpark-landroshof voorgekom, waar haar aansoek vir borg geweier is. Daar word nog na die vermiste kleuter gesoek.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldigde het glo op 10 November 2024 haar kleuterseun aan onbekende individue verkoop. Op 13 November het sy na bewering ‘n vals klagte van ontvoering van haar seun deur onbekende mans in ‘n voertuig, by die polisie aangemeld. Tydens die ondersoek is bevind die ontvoering het nie plaasgevind nie en die beskuldigde het later beken sy het die ontvoeringsklag gefabriseer. Sy is op 19 November in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.
Tydens die borgaansoek het die beskuldigde aan die hof voorgehou dat sy ‘n eerste oortreder is en sy nie, nege maande swanger, goeie mediese behandeling in aanhouding ontvang nie. Sy kan boonop nie haar kinders uit aanhouding versorg nie en indien sy op borg is, sal sy nie die verhoor mis nie, aangesien sy haar vermiste kleuterseun wil opspoor.
Cornelle Grobler het die borgaansoek teengestaan en gesê die beskuldigde mag met die ondersoek inmeng, aangesien sy reeds een van die staatsgetuies gekontak het. Voorts het Grobler gesê die beskuldigde is ‘n gevaar vir haar ander kinders, aangesien hulle moontlik dieselfde pad as die vermiste kleuter kan loop. Die beskuldigde word ook in ‘n kraamsaal aangehou waar sy die nodige mediese sorg ontvang en boonop nie die eerste vrou is wat in die tronk geboorte gaan gee nie.
Landdros Michael Tlale het saamgestem en bygevoeg hy glo die staat het ‘n sterk saak teen die beskuldigde.
“Hy het bygevoeg dat die beskuldigde nie betwis het dat die ontvoering vals is nie en dat sy aan een van die getuies gesê het om die pa van die kind in te lig dat die kind by hulle is sodat hy ‘n losprys van R75 000 kan betaal. Verder het hy gesê die beskuldigde het geen aanneemlike rede verskaf waarom sy op borgtog vrygelaat moet word nie. Die swangerskap en gedeeltelike mediese behandeling is nie genoeg om haar vrylating op borgtog te verseker nie. Verder het hy gesê die persoonlike omstandighede van die beskuldigde is nie uitsonderlik nie, daarom vind hy dat dit nie in die belang van geregtigheid is om die beskuldigde borgtog toe te staan nie.”
Die saak is vir verdere ondersoek tot 7 April uitgestel. Die beskuldigde bly in aanhouding, alhoewel sy Woensdagnag geboorte gegee het.





