GAUTENG. – Sers. Fannie Nkosi verskyn vandag op nog ‘n aanklag in die Thohoyandou-landdroshof in Limpopo. Dié omstrede sersant staan op ‘n verdere aanklag tereg nadat die Madlanga-kommissie se aanbevelings-ondersoektaakspan hom ook van regsverydeling aangekla het.
Volgens woordvoerder brig. Athlenda Mathe het die beweerde voorval op 10 November 2022 begin toe ‘n verdagte vir die besit van dagga, ongelisensieerde vuurwapens en springstof in hegtenis geneem is. Nkosi het daarna na bewering voorgegee het dat hy deur hoofkantoor gestuur is. Enkele maande later het hy glo na Thohoyandou teruggekeer, homself as ‘n kolonel van die hoofkantoor voorgestel en die dagga, waarop beslag gelê is, uit polisiebewaring verwyder. Die dagga is later by die hoofkantoor as bewysstuk ingeboek, maar ondersoeke het aan die lig gebring dat daar met een van die bewysstuksakke gepeuter is. ‘n Saak van die regsverydeling is geregistreer en word ondersoek.
Nkosi is in aanhouding nadat Pretoria-Noord-landdroshof sy borgaansoek in April van die hand gewys het. Hy staan op veskeie ernstige aanklagte tereg. Hy word onder meer aangekla van die onwettige besit van springstof, die versuim om vuurwapens en ammunisie veilig te bewaar, regsverydeling, diefstal en geldwassery. Beamptes het op 2 April sy huis in Pretoria-Noord deursoek nadat inligting oor onwettige ammunisie ontvang is. Tydens die deursoeking is verskeie vuurwapens, ammunisie, ’n skokgranaat, SAPD-saakdossiere en ander staatsitems glo op die perseel gevind. Meer as R50 000 kontant is ook onder ’n matras ontdek. Nkosi kon glo nie die oorsprong daarvan verduidelik nie.




