Brekende Nuus
Nuus

PAS BEKEND: Moordverdagte van misdaadintelligensielede doodgeskiet

Foto's: KZN VIP Protection Services en Wendy Pascoe

KWAZULU-NATAL. – ’n Verdagte wat gesoek is in verband met die moord op twee misdaadintelligensie-lede wat in April in Mount Edgecombe in ’n hinderlaag gelei is, is vanoggend tydens ’n polisie-operasie in Inanda noodlottig gewond. ’n Lid van die spesiale taakmag is tydens die operasie beseer.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het die skiettoneel bevestig waar die polisie steeds teenwoordig is.

Sers. Mandla Khuzwayo en kapt. Louis Nel was op 30 April in ’n ongemerkte staatsvoertuig onderweg toe gewapende aanvallers op hulle losgebrand het. Nel is op die toneel dood, terwyl Khuzwayo later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het. 

Die nuutste ontwikkeling volg nadat die polisie ’n verdagte wat met die moorde verbind word, opgespoor het. Meer besonderhede oor die operasie en die omstandighede waaronder die verdagte noodlottig gewond is, is nog nie bekend gemaak nie.