GAUTENG. – Genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van die polisiediens, het tydens ’n geskeduleerde BOC-vergadering met alle nege provinsiale kommissarisse vergader om misdaadbekamping in die land te bespreek. Adv. Borotho Matsoso, die Lesotho-polisiehoof, se uitlatings oor militêre kampe is pertinent bespreek.
Die Raad van Kommissarisse (BOC) is die hoogste besluitnemingsliggaam van die SAPD en sluit alle provinsiale kommissarisse, afdelingskommissarisse en die waarnemende nasionale hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (DPCI/Valke) in.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring genl. Masemola het tydens die vergadering sy tevredenheid oor die suksesvolle opbreek van georganiseerde misdaadsindikate in die land uitgespreek. Volgens ’n voorlopige verslag van die misdaadintelligensie-afdeling is intelligensie-operasies opgeskerp om die bewerings te ondersoek en waar nodig, sulke onwettige aktiwiteite op te spoor en te beëindig. Die Valke se eenheid vir misdade teen die staat (CATS), is ook by die ondersoek betrek. Verskeie deursoekings is reeds op geïdentifiseerde plase uitgevoer, maar geen bewyse van sulke kampe is tot op hede gevind nie.
Mathe bevestig voorts dat genl. Masemola met adv. Matsoso in verbinding getree het om die bewerings te bespreek. Beide kommissarisse het ooreengekom dat hul onderskeie intelligensiestrukture besig is om die bestaan van sulke kampe te ondersoek.
“Die veiligheid van almal wat in Suid-Afrika woon, is van uiterste belang. Enigiemand wat onwettige dade in die land pleeg, sal deur die volle mag van die gereg in die gesig gestaar word,” het genl. Masemola gesê. Hy het bygevoeg dat daar geen rede is vir paniek nie, aangesien polisiemagte van beide lande op hoë gereedheidsgrondslag is.





