Ek dien die Here al vir 16 jaar en ek kan met oortuiging sê: jy hoor nie elke dag Sy stem nie. Moet my egter nie verkeerd verstaan nie – ek hoor daagliks Sy wil wanneer ek die Bybel lees. Maar daar is twee soorte van God se wil. Die eerste is Sy algemene wil vir die hele mensdom. Die tweede is Sy spesifieke wil vir jóú lewe – jou roeping, jou bediening, jou lewensmaat, jou loopbaan, en nog veel meer.
Ek het al geleer dat om God se spesifieke wil vir jou lewe te ontdek, soms moeite verg. Partykeer kry jy vinnig antwoorde, maar ander kere kan dit weke, maande of selfs jare neem. Jy moet Hom soek in gebed en vas, en oop wees vir Sy leiding in die alledaagse dinge. Min mense maak werklik moeite hiermee, maar God is getrou en Hy het verskeie maniere om jou te kry waar Hy jou wil hê.
Vandag wil ek met jou praat oor een spesifieke manier waarop Hy my al herhaaldelik beweeg het. Verbeel jou dit: jy sit ná werk buite op die stoep met ’n lekker koppie koffie. Jy’s moeg en wil nog nie in die huis ingaan nie. Skielik sak daar ’n reënbui uit en jy raak papsopnat. Nou het jy twee keuses: bly sit en word nat, koud en dalk siek… of staan op en gaan in.
Dit is presies hoe God ons dikwels beweeg in die rigting waarin Hy ons wil hê. Hy maak dinge ongemaklik, soms selfs ondraaglik, totdat jy uiteindelik besluit jy het genoeg gehad en begin beweeg.
Ek was al in baie verskillende bedienings betrokke: van Woordbediening in die tronk, tot jeugleier, selgroepleier, radiobediening, kerkraadslid, en nou ’n skrywer. Ja, ek het al ’n ding of twee gesien! En aan die einde van elke seisoen het God my op dieselfde manier gelei om aan te beweeg: dit raak eenvoudig onverdraagsaam. Jy verloor jou passie vir die bediening (let wel: nie vir God nie), dit word al hoe meer uitdagend, moeiliker om gemotiveerd te bly, en uiteindelik voel dit selfs frustrerend. Dit is asof God se genade lig van daardie bediening af, en jy besef dit is tyd om aan te beweeg, want iemand anders moet nou daardie rol vervul.
Hierdie beginsel geld natuurlik nie net vir bediening nie. Dit is toepaslik in enige area van jou lewe – ’n vriendskap, jou werk, waar jy woon, en talle ander situasies. Die uitdaging is om te onderskei: Is dit God wat jou wil skuif, of die vyand wat jou wil wegskuif?
Hoe lui die spreuk? “As jy nie die hitte kan verdra nie, gaan uit die kombuis uit!”
Wanneer God begin om jou ongemaklik te laat voel, vra eerder: “Here, is dit U wat my wil skuif?” as om sommer net te probeer uithou. Soms is ongemak nie aanval nie, dit is leiding.
Psalm 32:8
“Ek sal jou onderrig en jou die pad leer waarop jy moet gaan; Ek sal jou raad gee, My oog op jou hou.”


