Rubriek: Melk, Vleis en Medisyne vir die Siel

Lees ook :

Ek het onlangs ‘n interessante gesprek met ‘n jong man gehad. Hy het genoem dat hy in enige kerkdenominasie kan ingaan en die Here daar kan dien, en dat daar niks fout is met enige van hulle nie. Jy kom mos om vir God te aanbid, nie waar nie?

Ek verstaan sy punt en ek kan tot ‘n sekere mate saamstem, maar tog nie heeltemal nie. Die kerk is nie net ‘n plek van aanbidding nie; dit is ook ‘n plek waar ons geestelike lering ontvang. Jou geestelike leier dra die verantwoordelikheid om sy kudde te voed met die Woord.

Kom ons kyk na ‘n voorbeeld: Ons weet almal dat ons kos nodig het om te lewe. As jy vir ‘n tyd lank niks eet nie, sal jy eenvoudig sterf. Dis nie “rocket science” nie. Maar alhoewel kos noodsaaklik is vir ons bestaan, beteken dit nie dat alle kos gesond is vir jou nie. ‘n Persoon wat uitsluitlik van “fast food” en gemorskos leef, gaan baie ongesonder wees as iemand wat ‘n gebalanseerde dieet volg wat self tuis gemaak word. En dan praat ek nie eens van sekere kosse wat jy dalk koop wat jou siek kan maak of selfs kan doodmaak nie.

Ek het self jare gelede so ‘n ervaring gehad toe ek ‘n blikkie kerrievis by ‘n bekende supermark gekoop het, en daardie selfde aand in die hospitaal beland het met voedselvergiftiging. Ek is redelik seker dat dit gebeur het omdat die blikkies lank in die son gestaan het voordat hulle verpak is.

Alhoewel kos noodsaaklik is vir oorlewing, kan dit dus, indien verkeerd bedien, die teenoorgestelde effek hê.

Terug by die kerk. Ek glo dat ek ook in enige denominasie kan sit en die Here kan dien, maar die vraag is of die tipe geestelike kos wat ek daar ontvang, goed of sleg is vir my geestelike groei. Ongelukkig is daar kerke wat die waarheid van die Woord so afwater en kompromitteer dat daar nie veel geestelike groei moontlik is nie. Ander kerke is wetties of onskriftuurlik, en sodoende word mense soms nooit eens tot bekering gebring nie.

As jy my sou vra watter denominasie die beste is, sou ek eerlik nie vir jou ‘n antwoord kan gee nie. My raad is eerder om jou eie Bybel te leer ken en te verstaan, en dan ‘n kerk te soek wat die waarheid preek – en nie net preek nie, maar dit ook leef en toepas.

Net soos dit ‘n herder se werk is om sy kudde te voed, so is dit ook jou kerk se verantwoordelikheid om die kudde te voed met die Woord. Soms het hulle melk nodig, ander kere vleis. Soms dalk iets soets om die hart bly te maak, en ander kere ‘n bietjie bitter medisyne om die kieme dood te maak.

Jou geestelike groei hang af van die kos wat jy kies om te verbruik. Net soos jou liggaam nie net van enige kos kan lewe nie, kan jou siel nie net deur oppervlakkige leer of verminderde waarheid gevoed word nie. Kies dus wys wat jy inneem: lees die Bybel self, verstaan die Woord, en wees deel van ‘n kerk wat die waarheid preek en leef. Dit sal jou toelaat om sterk te staan, geestelik te groei en jou verhouding met die Here te verdiep.

Matteus 4:4 – “Mens leef nie net van brood alleen nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief