GAUTENG – Op 16 Februarie omstreeks 07:15 het ‘n vrou die Smart Corner Supermarket in 4de Laan, in Geduld, Springs ingegaan. Na wat beweer word, het sy drie vermomde mans in ‘n voertuig gesien en het oor die pad gestap na waar kapt. Wynand du Toit was, om dit vir hom te sê.
Lumka Mahanjana, woordvoerder van die NVG, sê die vrou het na bewering vir Du Toit, wat van diens af was, gesê sy vermoed die supermark word beroof. Du Toit het skuiling agter ‘n geparkeerde voertuig by die ingang van die supermark geneem en die drie verdagtes beveel om hulle wapens neer te gooi. Daar is egter op hom geskiet en hy het teruggeskiet. Du Toit kon daarin slaag om twee van die verdagtes te tref, waarna hy in die straat ineengestort het. Hy is na Parkland-hospitaal gehaas, waar hy aan sy beserings gesterf het.
Mahanjana sê die verdagtes het van die toneel gevlug, waarna die gewonde Ntuthuzelo Mana (31) van KwaThema vir mediese hulp na die Pholosong-hospitaal geneem en is later die dag in hegtenis geneem is. Benjamin Ntuli (37) van Tsakane is Maandag in Middelburg vasgetrek.
Beide die verdagtes het Woensdag op aanklagte van moord, en drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede in die Springs-landdroshof verskyn, alhoewel Mana in absentia voorgekom het. Mana is steeds onder polisiebewaking in ‘n hospitaal. Die saak is in afwagting van Mana se ontslag uit die hositaal tot 27 Februarie uitgestel.
Mana is twee maande gelede deur die Springs-distrikshof op aanklagte van gewapende roof, ontvoering en die besit van ‘n vuurwapen en ammunisie op R12 000 borg vrygelaat, alhoewel die NVG dit teengestaan het. Die saak is vir verdere ondersoek tot 13 Maart uitgestel.
AO Thatohatsi Mavimbela, woordvoerder van die Valke, het die hofverskyning, asook dié van Mana in absentia en die uitsteldatum vir verdere ondersoek in ‘n verklaring bevestig.





