’n Jong leeumannetjie word sedert 15 Februarie 2019 deur bewaarders en vrywilligers gesoek. Dié leeumannetjie het uit die Karoo Nasionale Park ontsnap. Sy spoor is laas op 11 Maart 2019 opgemerk. Dit was ongeveer 42 km noordoos van Sutherland, in die rigting van die Fraserburg-omgewing in die Noord-Kaap.
Fayroush Ludick, ’n woordvoerder van Sanparke, sê: “Ons span het laas die leeu se spoor ongeveer 42 km noordoos van Sutherland gewaar. Ons het verslae ontvang dat die leeu vier skape en twee bokke gevang het op ’n plaas in die area.”
Infrarooi tegnologie word ingespan om die leeu vas te trek
“’n Span van Bidvest Protea Coin het op Vrydag 8 Maart 2019 by ons aangesluit en met behulp van hulle helikopter met infrarooi tegnologie kon ons span tot in die nag soek om die leeu se spoor op te vang. Ongelukig het die span geen sukses behaal oor die naweek nie,” verduidelik Ludick.
“Die Bidvest-helikopter is een van die enigste twee helikopters in die land wat met ‘forward-looking infrared (FLIR)’ toegerus is. Dit laat die operateur toe om ’n radius van 10km te fynkam vir liggaamshitte van die leeu. Die soektog duur voort,” sluit Ludick af.

