KWAZULU-NATAL. – ’n Man (41) wat aangekla is van die moord op ’n 3-jarige en die poging tot moord op sy 7-jarige broer, is Woensdag deur die hof tot twee keer lewenslange tronkstraf opgelê.
Volgens Samantha Meyrick van IPSS Search & Rescue wat die vonnis bevestig het, hou die saak verband met ’n voorval in Tongaat op 27 Desember 2024. ’n 3-jarige seun was as vermis aangemeld nadat sy broer kritiek beseer is in ‘n aanval met ‘n panga.
‘n Soektog na die 3-jarige op ’n plaas in die boonste Tongaat-gebied is later opgeskort nadat ‘n verdagte, die stiefpa, in hegtenis geneem is en glo die polisie na die liggaam gelei het. Die 3-jarige se liggaam is gevind en aan die polisie oorhandig.
Die saak het wyd reaksie uitgelok, met groot dank wat uitgespreek is teenoor die bykans 50 rolspelers en vrywilligers wat by die soektog betrokke was.
Die Durban-hooggeregshof het die man skuldig bevind op aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding en kwaadwillige beskadiging van eiendom en hom tot twee lewenslange gevangenisstrawwe plus ses jaar addisioneel gevonnis. Die misdade is tydens die Kersfeeseisoen van 2024 in die Esinembe-gebied naby Tongaat gepleeg.
Volgens NVG-woordvoerder Natasha Ramkisson-Kara, was die man in ‘n verhouding met die ma van die twee jong kinders, ‘n 3-jarige en ‘n 7-jarige, en het haar sedert sy vroeg in 2024 by hom ingetrek het, herhaaldelik mishandel. Op Kersdag het sake dramaties eskaleer toe hy haar van ontrouheid beskuldig, haar aangerand en sy uiteindelik vir haar lewe moes vlug. Sy kon die kinders nie saamneem nie, maar het reëlings getref dat hulle die nag veilig by bure deurbring. Die volgende oggend het hy haar besittings verbrand en daarna die kinders onder vals voorwendsels by die bure gaan haal. Hy het hulle afsonderlik na ‘n nabygeleë veld geneem en met ‘n rietmes op hulle toegeslaan. Die 3-jarige het nie die aanval oorleef nie. Die 7-jarige is deur ‘n verbyganger ontdek en betyds vir mediese behandeling geneem.
Tydens die verhoor het die staatsaanklaer, adv. Nadira Moosa, beide die moeder en die oorlewende kind se getuienis voor die hof gelei. Die moeder se slagofferimpakverklaring het ‘n aangrypende beeld geskets van die emosionele verwoesting wat sy sedertdien beleef, die ondraaglike werklikheid dat haar kind dood is aan die hand van iemand wat voorgegee het om die gesin lief te hê.
Die hof het die beskuldigde tot lewenslank vir die moord, lewenslank vir die poging tot moord, vyf jaar vir aanranding en een jaar vir die beskadiging van eiendom gevonnis.





