NOORDWES. – Christiaan van Blerk (34) en Donovan van der Walt (25) het op Vrydag 8 Augustus vlugtig op aanklagte van diefstal van ‘n motorvoertuig en kontant in die Klerksdorp-landdroshof verskyn. Die twee is aanvanklik as vermis aangemeld.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die twee beskuldigdes is Donderdag in Kempton Park, Gauteng, deur die Klerksdorp-polisie, met behulp van waaksame gemeenskapslede, in hegtenis geneem. Hulle bly in aanhouding tot hulle weer Vrydag in die hof moet voorkom.
Voor die inhegtenisneming is die mans op 14 Julie laas by hulle werk in Meiringspark, Klerksdorp, gesien. Hulle het in ’n wit Toyota Hilux Raider-bakkie vertrek om onderdele te gaan haal, maar het nooit teruggekeer nie. Hulle werkgewer het ‘n vermistepersonesaak aangemeld.





