NOORDWES. – Hanyane Ronauld Mei (47), Danile Nxamakele (35), en Pitso Radebe (47) het Woensdag op aanklagte van poging tot moord op Mark Hanscombe (53) van die Hanscombe-dagoord in die Orkney-landdroshof verskyn. Hulle is elkeen borg toegestaan.
Sivenathi Gunya, woordvoerder vir die NVG, sê die drie het borg tussen R1 000 en R1 500, ontvang. Die hofsaak spruit voort uit ‘n insident op 16 Desember 2024, waartydens besoekers na bewering teen die oord se reëls ‘n hubbly bubbly gerook het. Hulle is sonder sukses deur die personeel aangespreek, waarna Hanscombe se hulp as eienaar van die oord ingeroep is. Hy is egter aangerand en mdet ‘n skerp voorwerp gesteek. ‘n Video-opname van die voorval is op sosiale media versprei. Hanscombe is vir mediese sorg na ‘n hospitaal gehaas.
Die verdagtes het hulleself op 24 Desember 2024 aan die polisie oorhandig, waarna hulle vir poging tot moord aangekla is.
“Tydens die borgverhoor is Mei en Radebe borg van R1 500 elk toegestaan, terwyl Nxameke borg van R1 000 gekry het. Borgvoorwaardes sluit in om daagliks tussen 06:00 en 09:00 by die Jouberton-polisiestasie aan te meld en om nie met getuies of die klaer in te meng totdat die saak afgehandel is nie.”