GAUTENG. – ‘n Manlike verpleër (49) se borg is deur die Nigel-landdroshof geweier, nadat hy op aanklagte van verkragting van ‘n tienerseun (17) en seksuele aanranding van ‘n jong man (19) in die hof voorgekom het.
Die seun is in Augustus 2023 in die N17 Netcare-hospitaal in Springs behandel. Nadat sy mediese fonds uitgeput en hy ontslaan is, het die verpleër glo aangebied om hom tuis te versorg. Die seun is na bewering twee keer in die beskuldigde se voertuig in ‘n veld verkrag. Lede van die gemeenskap het die voertuig opgemerk en ook verskillende seuns, op verskillende tye, in die voertuig gesien.
Op 12 Februarie is die beskuldigde deur die gemeenskap gekonfronteer en na die polisiestasie geneem. Daar het die 17-jarige vertel wat gebeur het en nog ‘n klaer het na vore gekom om ‘n saak te maak.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldigde het vir borg gevra, omdat hy glo moet werk om vir sy kind te sorg. Hy het ook aan die hof gesê hy is in ‘n liefdesverhouding met die tienerseun.
Tumelo Madisha, die staatsaanklaer in die saak, het die borgaansoek teengestaan en geargumenteer die verpleër het die tienerseun se behoefte aan deurlopende mediese sorg uitgebuit. Hy het voorts gesê die beskuldigde is ‘n vlugrisiko, aangesien hy nie ‘n alternatiewe adres kon verskaf nie.
Landdros Rakesh Chitradow het met die staat saamgestem en borg geweier. Die saak is vir verdere ondersoek tot 31 Maart uitgestel.
Lees meer hier onder:





