WES-KAAP. – Die Wes-Kaapse departement van landbou het gewaarsku oor nuwe uitbrekings van die hoogs patogeniese voëlgriep (HPAI) by pluimvee en wilde voëls.
Gevallle is in hoenders in Noordwes en Mpumalanga bevestig, met een uitbreking by mak eende naby die Paarl. Die diere is geslag om verspreiding van die siekte te voorkom. Die virus het ook grootwitpelikane naby Malmesbury en seemeeue in die omgewing van Kaapstad geraak in die eerste massasterftes sedert 2022.
Voëlgriep versprei deur besmette voëls se mis en liggaamsvloeistowwe. Kontak met siek of dooie voëls moet vermy en by owerhede aangemeld word. Pluimveeprodukte wat in winkels te koop aangebied word, is veilig vir verbruik.
Pluimveeboere moet streng biosekuriteit toepas, insluitend beperkte toegang tot plase, afsondering van pluimvee van wilde voëls en ontsmetting van voertuie, skoene en toerusting.
Stranded Marina Animal Rescue Team (S.M.A.R.T) sê op sosiale media die eerste gevalle is reeds middel Julie in Kaapstad aangemeld. Die uitbreking tref hoofsaaklik meeue, maar ander voëlspesies kan ook vatbaar wees. Baie van die besmette voëls toon neurologiese simptome en daar is kommer dat die siekte verder langs die kus kan versprei, insluitend na die Tuinroete.
Die publiek word versoek om die volgende onmiddellik aan te meld indien dit tydens strandwandelinge opgemerk word: voëls met abnormale of ongekoördineerde gedrag, meer as een siek of aangetaste voël in dieselfde area en veelvuldige dooie voëls of karkasse op die strand.
Die publiek word aangeraai om nie aan besmette of dooie voëls te raak of dit op te tel of huis toe te neem in die Mosselbaai-gebied nie. Kontak eerder S.M.A.R.T. of Saprec vir hulp. S.M.A.R.T sê dit is belangrik om te weet dat voëlgriep wel mense kan aansteek, alhoewel die risiko klein is. Skoene, klere en enige toerusting wat met besmette areas in aanraking was, moet ontsmet word.
Die Suid-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sankub) het bevestig dat hulle tans op die uitbreking reageer. Die organisasie se spanne werk ononderbroke om besmette voëls te red, te isoleer en te behandel, terwyl streng biosekuriteitsmaatreëls toegepas word. Sankub is ’n mariene bewaringsorganisasie wat wêreldwyd bekend is vir die rehabilitasie van Suider-Afrikaanse seevoëls om wilde bevolkings te versterk.
Druk hier om meer te lees.