GAUTENG. – 110 leerlinge van Laerskool Tamaho in Katlehong is Woensdag deur nood- mediese dienste na verskeie klinieke en hospitale gehaas. 12 leerlinge is steeds onder hospitaalbewaking.
Steve Mabona, woordvoerder vir onderwys in die provinsie, sê die leerlinge het gedurende pouse stampmielies geëet, waarna hulle maagkrampe en naarheid ervaar het. Van die 110 leerlinge is 98 reeds ontslaan.
“Die Gautengse departement van onderwys (GDO), in vennootskap met die Gautengse departement van gesondheid (GDOH), monitor die voorval aktief en sal bykomende inligting verskaf soos die ondersoek voortgaan. Die GDO bly daartoe verbind om ‘n veilige en gesonde omgewing vir alle leerders te verseker en sal psigososiale ondersteuning aan die geaffekteerde leerders, gesinne en skoolgemeenskap bied.”
Matome Chiloane, die LUR vir onderwys, is bekommerd oor die herhaling van hierdie tipe insidente in Gauteng-skole: “Die veiligheid en welstand van ons leerders is ons hoogste prioriteit, en ons is daartoe verbind om nou saam met gesondheidsowerhede te werk, om die grondoorsake van hierdie voorvalle te verstaan en aan te spreek. Ons wens alle leerlinge wat herstel ‘n spoedige terugkeer na goeie gesondheid toe.”





