GAUTENG. – Katlego Molepo (32) van Middelburg, wat na bewering die koper is van ’n transformator ter waarde van R7 miljoen wat van die Claudius-substasie in Laudium gesteel is, is in die Atteridgeville-landdroshof borgtog geweier.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Molepo se mede-beskuldigdes, StadTshwane-amptenare – Kleinbooy Mahlangu (45) van Soshanguve, Thomas Baloi (41) van Pretoria-Noord en Daniel Kubayi (50) van Hammanskraal – is wel borgtog toegestaan. Al vier die beskuldigdes staan op aanklagte tereg wat met die diefstal van noodsaaklike infrastruktuur verband hou.
Daar word beweer lede van die Tshwane-metropolisie en die SAPD het op die middag van 7 November 2024 ‘n wenk ontvang oor ’n diefstal wat by die substasie aan die gang was. Met hul aankoms is hyskrane, vragmotors en ’n voertuig, gemerk as die eiendom van Stad Tshwane, op die toneel aangetref. Aangesien geen bewyse van werkmagtiging gegee kon word nie, is elf persone in hegtenis geneem. Tien is later vrygelaat. ’n Verdere Tshwane-amptenaar, Madimetja Jacob Malebane (38), wat ook op die toneel in hegtenis geneem is, het op 28 November 2024 in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.
Tydens die polisie se ondersoek is bevind dat Mahlangu, Baloi en Kubayi die toneel voor die aankoms van wetstoepassers verlaat het. Lasbriewe is vir hulle inhegtenisneming uitgereik, waarna hulle op 1 Julie by hul onderskeie werksplekke in hegtenis geneem.
Molepo het hom op 6 Julie by die Atteridgeville-polisiekantoor aan die polisie oorgegee. Tydens sy borgtogverhoor het Molepo deur sy regsverteenwoordiger aangevoer dat die staat ’n swak saak teen hom het. Hy het verder beweer hy moet borg toegestaan word omdat hy vier kinders het, vir ’n eggenoot sorg en aan ’n chroniese siekte ly. Grace Komane, die staatsaanklaer, het die aansoek teengestaan en na die erns van die oortreding verwys. Molepo is voorheen aan bedrog van die Werkloosheidsversekeringsfonds (UIF) skuldig bevind, waarvoor hy tot vyf jaar direkte gevangenisstraf of ’n boete van R40 000 gevonnis is. Komane het bygevoeg dat Molepo die huidige misdryf glo net tien maande ná daardie skuldigbevinding gepleeg het, wat dui op ’n geneigdheid om weer te oortree.
Die landdros het met die staat saamgestem en beslis dat dit nie in die belang van geregtigheid sou wees om borgtog aan Molepo toe te staan nie. Die saak is vir oorplasing na die streekhof tot 5 Augustus uitgestel.
Lees meer hier onder:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





