Foto’s van beweerde moordtoneel in berig.
GAUTENG. – Emmanuel Mbense (52) se familie het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader ná nuwe besonderhede oor sy dood tydens getuienis voor die Madlanga-kommissie bekend geraak het. Mbense is op 15 April 2022 in sy huis in Brakpan vermoor, waarna sy liggaam die volgende dag in die Duduza-dam naby Nigel gevind is. Nhlanhla en sy familie het op 18 November, vier dae nadat Marius van der Merwe, oftewel Getuie D, voor die Madlanga-kommissie getuig het, ontmoet. Van der Merwe het intussen in ‘n sluipmoordaanval gesterf.
Barry Bateman, woordvoerderde vir die privaatvervolgingseenheid, sê in ‘n verklaring volgens Nhlanhla, Mbense se broer, was die familie vir drie jaar sonder antwoorde. AfriForum het aan Opod geskryf en vrae gestel oor die vertraging in die ondersoek. Adv. Gerrie Nel sê die beskikbare inligting dui op moontlike beskerming van betrokke partye. “Ons beskou dit as ’n strategie om die omvang van kriminele aktiwiteite te verberg,” sê hy. Bateman sê dit is onduidelik of ’n belangrike getuie genader is en vra waarom geen verdagtes in hegtenis geneem is nie.
In ‘n brief aan Opod vra adv. Gerrie Nel deursigtige terugvoering oor die Brakpan-saak wat volgens hom sedert 2022 geen merkbare vordering toon nie. Die lede van die SAPD, EMPD en Guardian Security, vermoedelik betrokke, is nog nie in hegtenis geneem nie. Die brief verwys na getuienis voor die Madlanga-kommissie, waar die oorlede getuie, Marius “Vlam” van der Merwe, en voormalige EMPD-adjunkhoof Revo Spies, onder meer die huidige EMPD-adjunkhoof, Julius Mkhwanazi, met die voorval in verband gebring het.
Volgens AfriForum is die familie van Mbense bekommerd oor die langdurige vertraging in die ondersoek en die afwesigheid van inhegtenisnemings. Opod is versoek om dringend ’n bygewerkte vorderingsverslag te verskaf.

Lees die volledige verklaring van die privaatvervolgingseenheid deur hier te druk.




