Brekende Nuus
Misdaad

16-jarige se saak weer uitgestel

Foto: SAPD

WES-KAAP. – Die saak teen ’n 16-jarige seun is Maandag in die Malmesbury-landdroshof uitgestel vir sy opname by Valkenberg- psigiatriese hospitaal vir 30 dae se psigiatriese waarneming.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die saak was Dinsdag op die hofrol vir sy opname by die hospitaal. Hy sal na verwagting weer op 5 Oktober 2026 in die hof verskyn. Die tiener is deur ’n distriksgeneesheer ondersoek wat aanbeveel het dat hy vir evaluering verwys word. Die hof het die aanbeveling bekragtig en die tiener is na Valkenberg verwys. Hy word in ’n veilige plek aangehou. Die klagstaat en alle bevele wat deur die hof uitgereik is, is op versoek van die staat verseël. Die NVG sê dié stap is geneem om die regte van die minderjarige beskuldigde, die slagoffers, asook sy sibbe en familie te beskerm.

Die aanklagte sluit onder meer seksuele voorbereiding van ’n kind, gedwonge seksuele aanranding, seksuele uitbuiting van ’n kind, die skep en besit van kinderpornografie, die blootstelling van ’n kind aan pornografie, wreedheid teenoor diere en aanklagte wat verband hou met die verspreiding van materiaal wat seksuele geweld en geweld teen kinders uitbeeld, in. Die tiener word volgens die polisie vermoedelik met internasionale ekstremistiese netwerke verbind wat met kinderuitbuiting verband hou. Toestelle waarop eksplisiete beelde en video’s gevind is, is tydens die ondersoek gekonfiskeer.