Die mediesefondsadministrateur Discovery Health sê hy sal die volle koste dra van ’n stelselfout wat tot oorbetalings gelei het. Vir 16 507 lede is dit goeie nuus dat hulle nie meer self vir die stelselfout moet opdok nie.
Lees die volledige verklaring wat gister vrygestel is, in Afrikaans vertaal, hier onder:
Johannesburg, 11 Januarie 2026
Discovery Health het vandag aangekondig dat hy die koste sal dek van ’n eise-stelselfout wat gedurende 2025 tot die oorbetaling van sekere eise onder die Bo-Drempel-Voordeel (Above Threshold Benefit – ATB) gelei het. Geaffekteerde lede van die Discovery Health Mediese Skema sal nie verplig word om enige bedrae wat met die fout verband hou, terug te betaal nie, en geen ander lede van die Skema sal deur hierdie besluit benadeel word nie.
Die fout het ’n beperkte groep lede geraak wat per abuis te veel vir hulle ATB-eise gedurende 2025 uitbetaal is. Aangesien Discovery Health die volle koste absorbeer, word nóg die Skema nóg enige lede op enige wyse negatief geraak.
Dr. Ron Whelan, uitvoerende hoof van Discovery Health, het gesê: “Ten spyte van die geldigheid van die terugvordering, het Discovery Health, nadat daar deeglik na lede se bekommernisse geluister is en hul individuele ervarings en omstandighede oorweeg is, besluit om die koste namens lede te dek.”
Die fout het 16 507 lede geraak oor sekere Executive-, Comprehensive- en Priority-planne waar ATB van toepassing is. Die geaffekteerde groep verteenwoordig 10,5% van die lede op daardie planne, en minder as 0,6% van die Skema se totale ledetal. Daar is geen impak op lede buite hierdie groep nie, en voordele vir 2026 oor alle planne bly heeltemal onaangeraak.
Vir geaffekteerde lede sal eise-state opgedateer word om hierdie besluit te weerspieël. Enige aftrekkings wat uit Mediese Spaarrekeninge, Persoonlike Gesondheidsfondse of HealthPay-rekeninge gemaak is, sal herstel word, en lede wat reeds bedrae terugbetaal het, sal ten volle vergoed word. ’n Toegewyde diensspan sal lede wat geraak is, direk kontak om uitstaande navrae aan te spreek en duidelikheid te gee.
Dr. Whelan, uitvoerende hoof van Discovery Health, het afgesluit:
“Ons bied ons onvoorwaardelike verskoning aan lede wat deur hierdie fout geraak is. Om hierdie koste te dek, is die regte besluit en weerspieël ons verbintenis tot billikheid, integriteit en om lede eerste te stel, veral wanneer ons te kort skiet.”





