DNS is dié van Reuben Marsberg – soektog beëindig

Lees ook :

Foto: Virginia Marsberg

LIMPOPO. – Virginia Marsberg, ma van Reuben Marsberg (22), het haar hartseer en ongeloof op sosiale media gedeel nadat die familie bevestiging ontvang het dat die liggaam wat in die Makhado-omgewing gevind is, inderdaad dié van haar seun is. Sy het gesê sy is “sonder woorde” en dat hoewel haar kop dit reeds geweet het, haar hart nie die realiteit wou aanvaar nie. Volgens haar het die laaste stukkie hoop wat sy gehad het, nou finaal verdwyn.

Sy het verder aangedui dat sy uiteindelik haar seun sal kan “huis toe bring” en hom saam met sy pa tot rus sal laat kom. Sy het die publiek bedank vir hul ondersteuning en versoek dat die BackaBuddy-bladsy steeds gedeel word, hoe klein die bydrae ook al mag wees, om die proses te help bespoedig.

Op die amptelike Find Reuben Marsberg-Facebookblad is bevestig dat, ná maande van soektogte sedert November 2025, DNS-toetse nou bevestig het dat die liggaam wat gevind is, dié van Reuben is. Die familie het gesê hoewel hulle sy afsterwe begin aanvaar het, bly dit ’n verpletterende uitkoms. Die familie het ook aangedui dat hulle nog wag op amptelike besonderhede oor die omstandighede van sy dood en dat verdere inligting slegs gedeel sal word wanneer dit deur die betrokke owerhede bevestig is.

Hulle het die publiek bedank vir ondersteuning, skenkings, boodskappe en gebede gedurende die soektog, en gevra vir begrip en deernis terwyl hulle die rouproses betree. Volgens die familie sal die blad voortaan gebruik word om slegs geverifieerde opdaterings oor die regsproses en hofverrigtinge te deel soos wat dit beskikbaar raak.

Intussen is bevestig dat borgtog geweier is en dat die volgende hofverskyning vir Duncan Koekemoer vir 19 Junie geskeduleer is, ’n dag ná wat Reuben se 23ste verjaarsdag sou wees.

Reuben is gedurende November verlede jaar as vermis van ‘n plaas in die Levubu-polisiëringsgebied aangemeld. Waardevolle besittings, insluitend Marsberg se bakkie en ‘n boot met ‘n sleepwa, was gesteel. Intensiewe ondersoeke het gelei tot die opsporing van die verlate voertuig by die Polokwane Internasionale Lughawe. Verdere ondersoeke het die polisie na die Makhado-omgewing geneem, waar ’n liggaam in bosse naby ’n korrektiewe fasiliteit aangetref is, toegewikkel in ’n kombers en in ’n gevorderde stadium van ontbinding. Die verdagte is by sy woonplek in Makhado aangekeer. ‘n Sleepwa, boot en bosbreker (bull bar) wat aan Marsberg behoort het, is by die verdagte se woonplek gevind. ’n Saak van moord en huisroof is geregistreer. DNS-ontleding om die identiteit van die oorledene te bevestig is sedertdien afgewag.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief