WES-KAAP. – Tussen 1 September 2024 en 11 Januarie 2026 het die Stad Kaapstad 2 895 motoriste op die N2 tussen Langa en Firgrove bygestaan. Meer as 1 000 van hierdie gevalle is deur kringtelevisie-operateurs opgespoor, waarna hulp vinnig ontplooi is.
Alderman JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit vir die Stad Kaapstad, sê ’n ontleding van reaksietye sedert Julie 2025 wys dat 80% van voorvalle binne vyf minute of minder hanteer is. Hoewel minder as 1% van hierdie voorvalle verband met misdaad hou, kan selfs ’n klein voorval groot trauma veroorsaak of tot skade of besering lei. Die Stad bly fokus op die veiligheid van alle motoriste en inwoners langs hierdie besige snelweg en sal voortgaan om hulp vinnig te verskaf en gevaarlike situasies aan te spreek.





