Pieter Naudé (56), broer van Juanita du Plessis en ook ‘n musikant in eie reg, het Sondagaand om 21:50 na ‘n lang stryd met breinkanker gesterf.
Die sangeres het haar broer se afsterwe kort gelede met ‘n persverklaring bekend gemaak.
“My boetie, Pieter, het gisteraand 21:05 sy aardse huis verruil vir sy hemelse huis. Baie dankie vir almal se gebede. Vlieg hoog my boet, jy’s ‘n Koningskind!
Pieter Daniël Naude 11/06/68 – 27/04/25
PERSVERKLARING
Met groot hartseer deel ons die nuus van die afsterwe van Pieter Naudé, geliefde man, seun, pa en broer.
Pieter is op 11 Junie 1968 in Namibië gebore en het in 1986 aan Hoërskool Windhoek gematrikuleer. In 1995 het hy in die huwelik getree met Ester, en saam het hulle twee dogters, Danelle en Sunita, wat hy innig liefgehad het. Hy was ook ‘n geliefde sanger met ‘n loopbaan wat ver oor die 30 jaar gestrek het. Hy word veral onthou vir sy opgewekte en vriendelike geaardheid op die verhoog én van die verhoog af.
Na ’n lang en dapper stryd teen breinkanker, is Pieter op Sondag 27 April 2025 net ná 21:00 vreedsaam oorlede. Sy familie was aan sy sy.
Hy laat sy vrou Ester, dogters Danelle en Sunita, sy ma Francie en sy suster Juanita agter. Die familie vra dat hul privaatheid in hierdie moeilike tyd gerespekteer word.
Pieter se herdenking en begrafnis sal gehou word vir familie en nabye vriende wat ‘n pad saam met Pieter en sy gesin geloop het.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





