GAUTENG. – Die ma van ‘n kleuter in ‘n video waarin “kindermishandeling” uitgebeeld word, asook beskuldigdes drie en vier in die saak, het Maandag hulle borgtogaansoek in die Johannesburg-landdroshof laat vaar. Die borgtogaansoek van beskuldigde nommer twee is deur die hof tot 22 Augustus uitgestel.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens die verdediging het beskuldigde twee met die polisie saamgewerk, hou geen vlugrisiko in nie en sal aan enige borgvoorwaardes voldoen. Borgtog is egter deur die staat teengestaan omdat die beskuldigde reeds in 2018 aan dwelmbesit skuldig bevind is en gegewe die erns van die aanklagte dit nie in die belang van geregtigheid sal wees om borgtog toe te staan nie.
Die saak spruit uit ’n video waarin die moeder glo in die teenwoordigheid van die ander beskuldigdes saam met haar minderjarige seun ’n onbekende middel rook en hom aanmoedig om dit self te probeer. Die video is wyd op sosiale media versprei. Inhegtenisneming het gevolg, waarna die beskuldigdes van kindermishandeling en poging tot moord aangekla is. Die kind is ná die voorval in ’n veilige omgewing geplaas.





