GAUTENG. – Die saak teen Pethe Sara Simao (30), wat pas op aanklagte van ontvoering, verkragting, moord en oortreding van die immigrasiewet in die Johannesburg-hooggeregshof verskyn het, is vir pleit en verhoor uitgestel. Dit kom nadat Amantle Semane (6) se liggaam is in ‘n plakkershut gevind en Simao daarvoor in hegtenis geneem is.
Phindi Mjonondwane, streekwoordvoerder vir die NVG, sê op 21 Oktober 2024 is die minderjarige in Orlando-Wes as vermis aangemeld. Haar ma en die gemeenskap het na haar gesoek. ’n Getuie het beweer die beskuldigde is vroeër daardie dag saam met die kind gesien. Dit het verdag voorgekom omdat hulle nie aan mekaar verwant is nie. Semane se liggaam, gedeeltelik ontklee en sonder tekens van lewe, is glo in ’n plakkershut gevind. Die beskuldigde is op 23 Oktober 2024 deur die polisie in Zola, in Soweto, in hegtenis geneem.
’n Voorverhoor-konferensie is tussen die staat en verdediging gehou, waartydens die beskuldigde ingestem het om op aanklag 4, die oortreding van die immigrasiewet, skuldig te pleit. Die saak is tot 31 Julie uitgestel.
Lees meer hier onder:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





