GAUTENG. – Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het Vrydag nog ‘n verdagte in hegtenis geneem in verband met die klopjag en beslaglegging op edelstene by ‘n eiendom in Killarney, Johannesburg, in 2023. Die verdagte bly in aanhouding en sal Maandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê die verdagte word by die Germiston-aanhoudingselle aangehou en is een van die laaste twee verdagtes na wie die direktoraat nog gesoek het. Drie ander verdagtes het vroeër die week in die hof verskyn. Kersha Stoltz en Adriaan McKenzie is elk op borgtog van R5 000 vrygelaat, terwyl die aanklagte teen die sakeman Etienne van der Walt teruggetrek is nadat hy vertoë aan die vervolgingsgesag gerig het.
Met die aanvang van die ondersoek was daar ses verdagtes, onder wie lede van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), Johannesburgse metropolisie (JMPD), Gautengse verkeerspolisie en ‘n privaat burger. Een van die verdagtes is sedertdien oorlede.
Volgens Opod het sommige van die verdagtes na bewering buite hul regsgebied opgetree, terwyl ander nie as deel van hul amptelike pligte ondersoekbevoegdhede gehad het nie. Daar word ook beweer dat een van die verdagtes hom tydens die klopjag as ‘n polisielid voorgedoen het.





