Ontvoerde vrou met gesin herenig – twee in hegtenis

Lees ook :

Foto: Rdl. Bill Harington VF Plus - Nelson Mandelabaai-metro

OOS-KAAP. – Theresa Minnie (73) van Fairbridge Heights in die Nelson Mandelabaai-metro, wat op 11 Augustus ontvoer is, is op 16 Augustus met haar gesin herenig. ‘n Verdagte (31) is in hegtenis geneem en het Dinsdag op aanklag van ontvoering in die Kariega-landdroshof verskyn.

AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die slagoffer is ontvoer nadat sy met haar motor uit haar erf in Crocusstraat, Kariega gery het. Twee gewapende verdagtes met ‘n Volkswagen Polo het haar in hulle voertuig ingedwing en met haar weggery. ‘n Losprys is dieselfde dag geëis.

’n Span bestaande uit die Valke, misdaadintelligensie, die plaaslike kriminele rekordsentrum en Magma Security het die ontvoering ondersoek. Met druk wat toegepas is, is die slagoffer op 16 Augustus ongedeerd naby die Kariega-polisiekantoor afgelaai en met haar gesin herenig. ’n Intelligensiegedrewe operasie het tot die inhegtenisneming van twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 31 jaar oud, gelei, wat positief met die ontvoering verbind is. Die polisie het op ’n groot bedrag kontant, twee voertuie en twee vuurwapens wat vermoedelik tydens die ontvoering gebruik is, beslag gelê.

Die saak van die verdagte wat Dinsdag in die hof verskyn het, is tot Woensdag uitgestel om saam met die saak van ‘n tweede verdagte gevoeg te word. Weens die sensitiwiteit van die saak is die beskuldigde se identiteit nie bekend gemaak nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief