WES-KAAP. – Rowhan Appollis, Steveno Dumaizio van Rhyn en Racquel Chantel Smith se aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en lewenslange vonnis vir mensehandel vir uitbuiting en ontvoering, is deur die hooggeregshof van die hand gewys.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die drie het aangevoer dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en dat daar twee weergawes vir die betrokke dag van Joshlin Smith se verdwyning is en dat ’n ander hof moontlik anders sou beslis. Die hof het saamgestem met die staat se standpunt dat daar geen redelike vooruitsigte op sukses is nie. Die drie is skuldig bevind aan mensehandel vir uitbuiting en die ontvoering van Joshlin Smith, wat steeds vermis is.
Lourentia Lombaard, die staat se hoofgetuie, het ná haar getuienis in die baanbrekende saak vrywaring teen vervolging deur die hof gekry. Tydens die artikel 204-getuieondersoek het die regsverteenwoordigers van die beskuldigdes aangevoer dat Lombaard nie eerlik getuig het nie en die hof mislei het. Hulle het beweer dat daar teenstrydighede in haar getuienis was en dat die gehalte van haar getuienis só swak was dat dit verwerp moes word. Die staat het suksesvol hierteen geargumenteer en gesê Lombaard het reguit en eerlik op al die vrae geantwoord soos vereis word vir vrywaringsreg teen vervolging ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet 51 van 1977. Sy is hierna as ’n medepligtige geïdentifiseer en nie as ’n aktiewe deelnemer nie.
Adv. Nicolette Bell, direkteur van openbare vervolging, het die vervolgingspan vir hul werk geloof.





