VRYSTAAT. – Thabo Tankiso Hlompho (29), ’n Lesotho-burger, is in die Bethlehem-landdroshof tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Dit volg op ’n voorval op 12 Desember 2024 waartydens hy Andrew Grant Turner op die plaas Marman doodgeskiet en ’n boer van Fouriesburg gewond het.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring op die betrokke oggend kort na 08:00 het ‘n boer van Fouriesburg deur middel van geslotekringtelevisie (CCTV) ’n man op sy eiendom opgemerk en sy privaat veiligheidsdiens ontbied. Andrew Grant Turner (56), ‘n veiligheiswag, het hom na die klagte gehaas en die verdagte genader. Tydens die wag se poging om hom in hegtenis te neem, het die beskuldigde die wag oorweldig, hom ontwapen en noodlottig gewond. Turner is op die toneel dood.
Die boer, wat die voorval op CCTV dopgehou het, het ander boere sowel as die plaaslike polisie in kennis gestel. Die verdagte het probeer vlug en in die proses een van die boere in die been geskiet. Die gewonde boer is na ’n hospitaal geneem. Die oorblywende boere het daarin geslaag om die verdagte vas te trek, die gesteelde vuurwapen terug te kry en hom aan die polisie met hulle aankoms te oorhandig.
Op 24 Julie 2025 het Hlompho in die Bethlehem-landdroshof skuld beken en is hy tot 12 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.





