GAUTENG. – Mlehalinye Montasi (20) het R6 000 borg gekry en Kgotlhello Mathabathe (19) R3 000. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle Lethabo Mokonyane, ‘n medeleerling in gr. 10, op 17 Junie 2025 ná die skryf van ‘n eksamen gesteek het. Hy is later in die hospitaal dood.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die Bronkhorstspruit-landdroshof het aan die twee leerlinge van Hoërskool Lesedi borgtog toegestaan. Mokonyane is met ‘n skerp voorwerp gesteek toe hy op pad na die skoolhek die beskuldigdes teëgekom het. ‘n Bakleiery het glo uitgebreek waartydens een hom vasgehou het, terwyl die ander een hom verskeie kere gesteek het. Die moordslagoffer is na ‘n hospitaal geneem, waar hy ‘n paar uur later gesterf het.
In die hof het die beskuldigdes aansoek gedoen om borgtog op grond daarvan dat hulle hul skoolopleiding moet voortsit. Karabo Sebelo, die aanklaer, het borgtog teengestaan en aangevoer dat Montasi onwettig in die land is en ’n vlugrisiko inhou. Sy het ook aangevoer dat beide beskuldigdes aan getuies bekend is en moontlik met hulle kan inmeng. Die hof het borgtog onder streng voorwaardes toegestaan. Die beskuldigdes moet hofverrigtinge bywoon totdat die verhoor afgehandel is en mag nie direk of indirek met getuies inmeng nie. Albei moet hulle aan korrektiewe toesig en reëls onderwerp.
Die saak is tot 10 Oktober vir die streekhof uitgestel.
Lees meer hier onder:





