GAUTENG. – Vyf beskuldigdes, 17, 19, 20, 20 en 36 jaar oud, het ná ’n skietvoorval in Westbury op 29 Oktober, waartydens twee mense dood en vyf ander beseer is, in die Johannesburg-landdroshof verskyn. Hulle word vir twee moorde en vyf pogings tot moord aangekla. Die name van die beskuldigdes word nie bekend gemaak nie om die ondersoek en hul veiligheid te beskerm.
Die slagoffers het op die betrokke dag op ‘n stoep gesit toe die beskuldigdes net lukraak begin skiet het. Die beskuldigdes het van die toneel gevlug. Twee van die slagoffers is later in ‘n hospitaal dood verklaar. Een van die beskuldigdes is by ‘n skool in hegtenis geneem, terwyl die ander hulleself later aan die polisie oorgegee het.
Volgens Phindi Mjonondwane, die NVG-streekwoordvoerder, is een van die beskuldigdes ‘n kinderoortreder. Hy is voor sy hofverskyning deur maatskaplike werkers ingevolge die Kinderregtewet geëvalueer. Die saak is vir regshulpaansoek tot 11 November uitgestel. Daarna sal die saak, weens die erns van die misdaad, in die kinderhof saam met die ander beskuldigdes voortgaan. Die minderjarige bly in ’n plek van veiligheid, terwyl die vier volwassenes in aanhouding bly tot hul borgtogaansoek op 13 November.
Die ondersoek duur voort.




