Gewapende verdagtes in hof

Lees ook :

Tien verdagtes het gister in die Kimberley-landdroshof op aanklag van sameswering, poging tot gewapende roof en besit van vuurwapens en ammunisie, verskyn.

In hegtenis voor misdaad

Die mans is almal Woensdag in Kimberley in hegtenis geneem, oomblikke voordat hulle na bewering ’n transitovoertuig wou beroof.

‘n Vuurwapen, twee magasyne met 39 rondtes, asook ’n pistool met twee magasyne met 13 rondtes, is op die toneel gevind.

Drie voertuie is ook deur die polisie gekonfiskeer. Die voorval het op die hoek van Phakamile Mabija and Cecil Sussmanstraat, skuins oorkant Supa Quick plaasgevind.

Die verdagtes is in hegtenis geneem nadat die Valke inligting opgevolg het en sodoende die rooftog kon keer.

Hof stampvol van familie

Vrydag het die landdroshof in Kimberley stampvol gesit met familielede van die verdagtes. Die verdagtes het in die hof beweer hulle is deur die polisie aangerand. Die staatsaanklaer het gevra dat die verdagtes onderskeidelik op drie verskillende plekke aangehou word, omdat hulle vir sameswering aangekla word, maar die versoek is nie deur landdros D. Mokoto toegestaan nie.

Tien verdagtes

Die tien verdagtes is: Tshepo Moshweu(35), Ishmael Didi(29), Thabang Tshabalala(29), Prince Mosala(37), Tsapajane Moribe(40), Bongani Nomtsheke(38), Ephraim Diseko(41), Joseph Ncoma(39), Patrick Maphisa(44), Nceba Ntulo(30).

Die saak is tot 15 Februarie vir formele borgtogaansoek, uitgestel. Almal word by die Kimberley-gevangenis aangehou, behalwe een verdagte, wat na bewering aangerand is. Hy sal by die Transvaalweg-polisiestasie aangehou word.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App