LIMPOPO. – Vier kinders, onderskeidelik drie, sewe, nege en 11 jaar, is Vrydagaand omstreeks 23:00 dood toe hulle huis in Calais-woonbuurt aan die brand geraak het.
Kol. Malesela Ledwaba sê luidens ‘n persverklaring lede van die gemeenskap het met die aankoms van polisielede op die toneel probeer om die kinders te red.
“Ondanks die vinnige reaksie van nooddienste het die kinders ongelukkig in die brand beswyk.”
Ledwaba sê voorlopige ondersoek dui aan die ma het haar drie slapende dogters by hulle neef (11) gelos, terwyl sy kos by haar ma se nabygeleë huis gaan haal het. Die kos was vir haar ander kind wat van ‘n inisiasieskool teruggekeer het. Met haar tuiskoms was die dogters in die brandende huis vasgekeer.
Die kinders se name word vanweë die voortdurende ondersoek nie bekend gemaak nie.
Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer.
Lt.genl. Thembi Hadebe het hartseer oor die kinders se dood uitgespreek: “In dieselfde lig doen ons ‘n sterk beroep op ouers om ekstra versigtig te wees met die veiligheid van diegene in hul sorg.”





