GAUTENG. – Ses beskuldigdes wat na bewering betrokke is by die moord op Emmanuel Mbense, is borgtog in die Brakpan-landdroshof geweier. EMPD-adjunkhoof Julius Doctor Mkhwanazi (50), ’n sakeman, Cobus Janse van Rensburg (42), ’n voormalige beampte van die Ekurhuleni-metropolisie, Adrian Norman Mackenzie (43) en drie voormalige SAPS-lede – Bhekokwakhe Sibande (36), Keisha-Leigh Stols (40) en Juan Maree Eksteen (33) – se borgtogaansoek is suksesvol teengestaan.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling. Die staat beweer dat die beskuldigdes Mbense op 14 April 2022 by sy woning aangerand en vermoor het nadat hulle hom daarvan verdink het dat hy koper uit ’n pakhuis gesteel het. Verder word beweer dat hulle ná die beweerde moord Mbense se persoonlike besittings en sowat R500 000 kontant geroof het. Die staat beweer ook dat die beskuldigdes Mbense se liggaam by Spaarwaterdam gestort het.
Borgtogis deur die NVG teengestaan op grond van die erns van die beweerde misdrywe en die risiko dat die beskuldigdes die verhoor kan ontduik. Die hof het in sy borgtoguitspraak bevind dat die beskuldigdes nie voldoende getuienis voor die hof geplaas het om buitengewone omstandighede te bewys wat, in die belang van geregtigheid, hul vrylating op borgtog sou regverdig nie. Borgtog is gevolglik aan al ses beskuldigdes geweier. Die saak is vir verdere ondersoek en om die inhegtenisneming en byvoeging van ‘n uitstaande verdagte moontlik te maak tot 24 November uitgestel.