GAUTENG. – Darren Wilken (34) en sy lewensmaat, Tiona Moodley (25), het Dinsdag vlugtig in die Randburg-landdroshof verskyn voordat hulle saak na die Hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas is.
Volgens Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, word die twee van verskeie ernstige oortredings, waaronder die besit en verspreiding van onwettige kindermateriaal, kuberbedrog, die onregmatige verkryging of gebruik van datatoestelle, asook geldwassery, aangekla. Die klagstaat is in die hof voorgelees en aan die beskuldigdes beteken. Die saak is nou vir voorverhoorverrigtinge op 19 Februarie 2026 in die Hooggeregshof geplaas.
Hul inhegtenisneming volg op internasionale intelligensie wat die Suid-Afrikaanse owerhede na ’n plaaslike teiken gelei het. Elektroniese toestelle en ’n groot bedrag kontant is tydens die operasie gekonfiskeer. Die NVG sê dit bly daartoe verbind om sake te vervolg waarin kinders se veiligheid en welstand in gedrang is.